📖 Job 31
-
1
Ek het 'n verbond gesluit met my oë: hoe sou ek dan ag gegee het op 'n jonkvrou?
-
2
Wat tog is die lot wat God daarbo beskik, en die erfdeel van die Almagtige uit die hoogtes--
-
3
is dit nie ondergang vir die kwaaddoener en ongeluk vir die werkers van ongeregtigheid nie?
-
4
Sien Hy nie my weë nie, en tel Hy nie al my voetstappe nie?
-
5
As ek met leuens omgegaan het en my voet gehardloop het na bedrog:
-
6
laat Hy my dan weeg op 'n regte weegskaal, sodat God my onskuld kan weet!
-
7
As my gang afgewyk het van die weg en my hart agter my oë aangegaan het en aan my hande 'n vlek gekleef het--
-
8
laat my dan saai en iemand anders eet, en laat my uitspruitsels ontwortel word.
-
9
As my hart verlok was oor 'n vrou, en ek geloer het by die deur van my naaste--
-
10
laat dan my vrou vir iemand anders maal en ander hulle oor haar buig.
-
11
Want dit is 'n skandelike daad, en dit is 'n strafbare misdaad.
-
12
Ja, dit is 'n vuur wat tot by die plek van vertering toe vreet en al my opbrings sou ontwortel.
-
13
As ek gering geag het die reg van my slaaf of van my slavin toe hulle 'n geskil met my gehad het--
-
14
wat sou ek dan doen as God opstaan? En wat Hom antwoord as Hy ondersoek doen?
-
15
Het Hy wat my in die moederskoot gemaak het, hom nie gemaak nie? En het Een ons nie in die geboorte toeberei nie?
-
16
As ek die armes 'n versoek geweier het en die oë van die weduwee laat versmag het
-
17
en my stukkie brood alleen geëet het sonder om die wees daarvan te laat saameet;
-
18
(veelmeer het hy van my jeug af by my grootgeword soos by 'n vader, en van my moeder se skoot af het ek haar gelei!)
-
19
as ek iemand sien omkom het sonder klere en dat daar geen bedekking vir die behoeftige was nie;
-
20
as sy lendene my nie geseën en hy hom nie warm gemaak het van die skeersel van my lammers nie;
-
21
as ek my hand teen 'n wees beweeg het, omdat ek in die poort vir my hulp gesien het--
-
22
laat dan my skouer uit sy gewrig val en my arm van sy pyp afgebreek word.
-
23
Want die ondergang wat God bewerk, was 'n skrik vir my; en weens sy hoogheid was ek onmagtig.
-
24
As ek op goud my hoop gestel het en vir die fyn goud gesê het: My vertroue!
-
25
As ek bly gewees het, omdat my vermoë groot was en my hand baie verwerf het;
-
26
as ek die sonlig aangesien het wanneer dit helder skyn en die maan wat so pragtig daarheen gaan,
-
27
en my hart heimlik verlei is, en ek met my hand hulle 'n kus toegewerp het--
-
28
ook dit sou 'n strafbare misdaad wees, want ek sou God daarbo verloën het.
-
29
As ek bly was oor die ongeluk van my hater en uitgejubel het toe onheil hom getref het;
-
30
(ja, ek het my verhemelte nie toegelaat om te sondig nie, om deur 'n vloek sy lewe te vorder nie!)
-
31
as die mense in my tent nie gesê het: Wie kan iemand vind wat van sy vleesspys nie versadig is nie?
-
32
(die vreemdeling het nie buitekant vernag nie; my deure het ek oopgemaak na die pad toe!)
-
33
as ek, soos Adam, my oortredinge bedek het deur my ongeregtigheid in my boesem weg te steek,
-
34
omdat ek bang was vir die groot menigte en die veragting van die geslagte my laat skrik het, sodat ek my stil gehou, die deur nie uitgegaan het nie!
-
35
Ag, as iemand my maar wou aanhoor! Kyk hier my handtekening (laat die Almagtige my antwoord!) en die skrif wat my teëparty geskrywe het!
-
36
Waarlik, op my skouer sou ek dit dra; ek sou dit my ombind as 'n krans.
-
37
Die getal van my voetstappe sou ek Hom te kenne gee; as 'n vors sou ek na Hom toe aankom.
-
38
As my saailand my aanklaag en sy vore almal saam ween;
-
39
as ek sy opbrings geëet het sonder betaling en die lewe van sy eienaars uitgeblaas het--
-
40
laat dan distels in plaas van koring uitspruit en onkruid in plaas van gars. Hier eindig die woorde van Job.