📖 Job 30
-
1
En nou lag hulle wat jonger is as ek, my uit--mense wie se vaders ek te min geag het om by my herdershonde te sit.
-
2
Wat sou die krag van hulle hande my ook baat? Die frisse lewenskrag het by hulle verlore gegaan.
-
3
Hulle is uitgeput deur gebrek en honger, hulle wat die dor land afknaag in die donkerheid van woestheid en verwoesting;
-
4
hulle wat die soutkruid afpluk by die bossies, en die besemboswortel is hulle brood.
-
5
Uit die samelewing word hulle weggejaag; die mense skreeu oor hulle soos oor 'n dief.
-
6
In die afgryslike klowe moet hulle woon, in gate in die grond en in rotse.
-
7
Tussen die bossies skreeu hulle, onder brandnekels kruip hulle bymekaar--
-
8
dwase, ja, eerlose mense wat met 'n sweep uit die land geslaan word.
-
9
En nou het ek hulle spotlied geword en die onderwerp van hulle gepraat.
-
10
Hulle het 'n afsku van my, staan op 'n afstand van my af en ontsien nie om my in die gesig te spuug nie.
-
11
Want Hy het my boogsnaar losgemaak en my verneder; so het hulle dan teenoor my die teuel laat skiet.
-
12
Aan die regterhand staan die gespuis op; hulle stoot my voete weg en gooi hul onheilspaaie teen my op.
-
13
My pad verniel hulle, hulle help om my te laat val sonder dat hulle self 'n helper het.
-
14
Soos deur 'n wye bres kom hulle; te midde van die puinhope kom hulle aanrol.
-
15
Verskrikkinge is teen my gerig; hulle vervolg my hoogheid soos die wind, en soos 'n wolk het my geluk verbygegaan.
-
16
Daarom stort my siel hom nou uit in my; dae van ellende hou my vas.
-
17
Die nag deurboor my gebeente, en dit val van my af; en my knaende pyne rus nooit nie.
-
18
Deur goddelike oormag is my kleed ontredder; soos die kraag van my lyfrok omspan dit my.
-
19
Hy het my in die modder gewerp, en ek het soos stof en as geword.
-
20
Ek roep U aan om hulp, maar U antwoord my nie; ek staan daar, en U staar my aan.
-
21
U is jeens my verander in 'n onbarmhartige; deur die sterkte van u hand behandel U my as vyand.
-
22
U hef my op die wind, laat my daarop ry; en U laat my vergaan in stormgedruis.
-
23
Want ek weet: U wil my na die dood toe bring en na die huis waar al wat lewe, saamkom.
-
24
Maar sal iemand by die ineenstorting nie nog die hand uitsteek of by sy ondergang om dié rede om hulp roep nie?
-
25
Of het ek nie geween oor hom wat harde dae het nie? Was my siel nie bekommerd oor die behoeftige nie?
-
26
Want ek het op die goeie gehoop, en onheil het gekom; en ek het gewag op lig, en donkerheid het gekom.
-
27
My ingewande kook sonder ophou; dae van ellende het my teëgekom.
-
28
Ek gaan daarheen in die rou, sonder son; ek staan op in die vergadering, ek roep om hulp.
-
29
Ek het 'n broer geword vir die jakkalse en 'n vriend vir die volstruise.
-
30
My vel het swart geword en val van my af, en my gebeente gloei van hitte.
-
31
So het dan my siter 'n rouklag geword en my fluit 'n stem van die wat ween.