📖 Job 27
-
1
En Job het verder sy spreuk aangehef en gesê:
-
2
So waar as God leef wat my my reg ontneem het, en die Almagtige wat my siel bitterheid aangedoen het--
-
3
want my asem is nog heeltemal in my, en die lewensasem van God is in my neus--
-
4
my lippe spreek geen onreg nie, en my tong verkondig geen bedrog nie!
-
5
Dit is ver van my dat ek julle gelyk sou gee; totdat ek die asem uitblaas, sal ek my onskuld nie prysgee nie.
-
6
Aan my geregtigheid hou ek vas en laat dit nie los nie; my hart veroordeel geeneen van my dae nie.
-
7
My vyand moet dus verskyn as goddelose en my teëstander as kwaaddoener.
-
8
Want wat is die verwagting van die goddelose as Hy afsny--as God sy siel wegneem?
-
9
Sal God sy geroep hoor as benoudheid oor hom kom?
-
10
Of sal hy hom kan verlustig in die Almagtige, God altyd kan aanroep?
-
11
Ek sal julle onderrig aangaande die hand van God; wat by die Almagtige is, sal ek nie verberg nie.
-
12
Kyk, julle het dit almal self aanskou, en waarom koester julle dan 'n ydele hoop?
-
13
Dít is die deel van die goddelose mens by God en die erfdeel van die tiranne wat hulle van die Almagtige ontvang:
-
14
as sy kinders baie word, is dit vir die swaard; en sy spruite word nie versadig met brood nie.
-
15
Die wat van hom oorbly, word deur die pes begrawe, en sy weduwees ween nie.
-
16
As hy silwer ophoop soos stof en klere aanskaf soos modder--
-
17
hy skaf aan, maar die regverdige trek dit aan; en die onskuldige verdeel die silwer.
-
18
Hy het sy huis gebou soos 'n mot en soos 'n skerm wat die oppasser maak.
-
19
Ryk gaan hy lê, maar hy doen dit nie weer nie; hy maak sy oë oop en--is nie meer nie.
-
20
Verskrikkinge oorval hom soos waterstrome; in die nag voer 'n stormwind hom weg.
-
21
Die oostewind tel hom op, en daar gaan hy; en dit storm hom weg uit sy plek.
-
22
En God werp op hom af sonder verskoning, vir sy hand moet hy haastig vlug.
-
23
Hulle klap oor hom in hul hande en spot hom weg uit sy plek.