📖 Job 23
-
1
Maar Job het geantwoord en gesê:
-
2
Nog altyd geld my geklaag as wederstrewigheid; my hand lê swaar op my gesug.
-
3
Ag, as ek maar geweet het waar ek Hom kon vind, maar kon kom tot by sy woning!
-
4
Dan sou ek die regsaak voor sy aangesig uiteensit en my mond met bewyse vul;
-
5
ek sou verneem die woorde wat Hy my sou antwoord, en verstaan wat Hy aan my sou sê.
-
6
Sou Hy met oormag teen my stry? Nee, maar Hy sou ag op my gee.
-
7
Dan sou daar 'n opregte met Hom staan en pleit, en ek sou vir ewig van my regter vrykom.
-
8
Kyk, ek gaan na die ooste, en Hy is nie daar nie; en na die weste, maar ek bemerk Hom nie.
-
9
As Hy in die noorde werk, aanskou ek Hom nie; buig Hy af na die suide, dan sien ek Hom nie.
-
10
Want Hy weet hoe my wandel is; as Hy my toets, sal ek soos goud te voorskyn kom.
-
11
Aan sy voetstap het my voet vasgehou; sy weg het ek bewaar sonder om uit te draai.
-
12
Van die gebod van sy lippe het ek nie afgewyk nie; die woorde van sy mond het ek bewaar meer as my eie wet.
-
13
Maar Hy bly onveranderlik Een--wie sal Hom dan teëhou? En wat sy siel begeer, dit doen Hy.
-
14
Want Hy sal volbring wat oor my besluit is, en baie sulke dinge is daar by Hom.
-
15
Daarom is ek verskrik voor sy aangesig; as ek daarop ag gee, vrees ek vir Hom.
-
16
En God het my hart week gemaak, en die Almagtige het my verskrik.
-
17
Want ek vergaan nie vanweë die duisternis of vanweë my eie aangesig wat deur donkerheid oordek is nie.