📖 Job 22
-
1
Toe het Élifas, die Temaniet, geantwoord en gesê:
-
2
Kan 'n man aan God 'n diens bewys? Nee, aan homself bewys die verstandige 'n diens.
-
3
Het die Almagtige daar belang by dat jy regverdig is? Of is dit voordeel vir Hom dat jy onberispelik wandel?
-
4
Is dit oor jou Godsvrees dat Hy jou bestraf, dat Hy met jou na die gereg gaan?
-
5
Is jou boosheid nie groot en jou ongeregtighede nie sonder einde nie?
-
6
Want jy het pand geneem van jou broers sonder noodsaak, en die klere van die naaktes het jy uitgetrek.
-
7
Aan die vermoeide het jy geen water gegee om te drink nie, en aan die hongerige het jy die brood onthou.
-
8
Maar aan die man van geweld--aan hom behoort die land; en die aansienlike--hy moet daarin woon!
-
9
Weduwees het jy met leë hande weggestuur, en die arms van die wese is verbrysel.
-
10
Daarom is daar vangnette rondom jou en maak die vrees jou skielik skrik.
-
11
Of sien jy die duisternis nie en die oorvloed van waters wat jou bedek?
-
12
Is God nie hemelhoog nie? En aanskou hoe hoog die hoogste sterre staan.
-
13
Maar jy sê: Wat weet God? Kan Hy deur donkerheid heen strafgerig hou?
-
14
Wolke is 'n bedekking vir Hom, sodat Hy nie sien nie; en oor die hemelgewelf wandel Hy.
-
15
Wil jy die pad van die ou tyd hou, wat die kwaaddoeners bewandel het,
-
16
wat gegryp is voor die tyd, wie se grondslag uitgegiet is soos 'n stroom,
-
17
wat tot God gesê het: Bly ver van ons af! en: Wat kan die Almagtige ons aandoen?
-
18
En tog het Hy hulle huise gevul met wat goed is. (Maar die gesindheid van die goddelose is ver van my!)
-
19
Die regverdiges sien dit en is bly, en die onskuldige spot met hulle en sê:
-
20
Waarlik, ons teëstander is verdelg; en wat hulle laat oorbly het, het die vuur verteer.
-
21
Sluit tog vriendskap met Hom, sodat jy vrede kan hê; daardeur sal goeie dinge oor jou kom.
-
22
Neem tog uit sy mond onderrig aan, en lê sy woorde weg in jou hart.
-
23
As jy tot die Almagtige terugkeer, sal jy gebou word; as jy die onreg verwyder uit jou tent.
-
24
En gooi die gouderts in die stof en tussen die rotse van die spruite die goud van Ofir.
-
25
Dan sal die Almagtige jou gouderts wees en stawe silwer vir jou.
-
26
Want dan sal jy in die Almagtige jou verlustig en jou aangesig tot God ophef.
-
27
Jy sal tot Hom bid, en Hy sal jou verhoor; en jy sal jou geloftes betaal.
-
28
Besluit jy iets, dan kom dit tot stand; en oor jou weë skyn 'n lig.
-
29
As dié afdraand loop, dan sê jy: Boontoe! En hom wat neerslagtig is, verlos Hy.
-
30
Hy red selfs hom wat nie onskuldig is nie: ja, hy word gered deur die reinheid van jou hande.