📖 Job 20
-
1
Toe het Sofar, die Naämatiet, geantwoord en gesê:
-
2
Daarom juis antwoord my gedagtes my, en wel weens my haastigheid in my.
-
3
'n Bestraffing wat vir my griewend is, moet ek aanhoor; maar die gees uit my verstand antwoord my.
-
4
Weet jy wel dit wat van altyd af was, vandat die mens op die aarde gemaak is:
-
5
dat die gejubel van die goddelose kort van duur is en die vreugde van die roekelose net vir 'n oomblik?
-
6
Al klim sy hoogheid na die hemel toe op, en al raak sy hoof aan die wolke--
-
7
soos sy eie drek vergaan hy vir ewig; die wat hom gesien het, vra: Waar is hy?
-
8
Soos 'n droom vlieg hy weg, sodat 'n mens hom nie meer vind nie; en hy word verjaag soos 'n naggesig.
-
9
Die oog wat hom gesien het, sien hom nie meer nie; en sy plek aanskou hom nie meer nie.
-
10
Sy kinders moet die guns soek van armes, en met eie hande moet hy sy vermoë teruggee.
-
11
Sy gebeente was vol van sy jeugdige krag; maar met hom saam lê dit in die stof.
-
12
Al smaak die kwaad soet in sy mond, al verberg hy dit onder sy tong,
-
13
al spaar hy dit, en al wil hy dit nie laat vaar nie, maar dit terughou in sy verhemelte--
-
14
tog word sy voedsel in sy ingewande verander, dit word gal van adders in sy binneste.
-
15
Rykdom het hy verslind, maar hy moet dit weer uitspuug; uit sy buik dryf God dit weg.
-
16
Die gif van adders suig hy in, die tong van 'n slang maak hom dood.
-
17
Hy mag hom nie verlustig in beke, in vloeiende strome van heuning en dikmelk nie.
-
18
Wat hy deur arbeid verkry het, gee hy terug sonder om dit in te sluk; na die maat van sy ingeruilde rykdom sal hy nie bly wees nie.
-
19
Want hy het die armes verdruk, aan hulle lot oorgelaat; 'n huis het hy geroof, maar hy sal dit nie opbou nie.
-
20
Want hy het geen rus geken in sy binneste nie; so sal hy dan nie ontsnap met sy kosbare goed nie.
-
21
Niks het ontkom aan sy vraatsug nie; daarom is sy voorspoed nie duursaam nie.
-
22
By die volheid van sy oorvloed sal hy benoud wees: al die hande van ellendiges oorval hom.
-
23
Om sy buik te vul, sal Hy teen hom uitstuur sy toorngloed, en Hy sal dit op hom laat reën as sy voedsel.
-
24
Hy sal vlug vir die ysterwapens--'n koperboog sal hom deurboor.
-
25
Hy trek--daar kom dit uit sy rug, en die glinsterende swaard gaan uit sy gal; verskrikkinge is op hom!
-
26
Pure duisternis is bewaar vir sy skatte; 'n vuur wat nie deur mense aangeblaas is nie, verteer hom; dit wei af wat in sy tent oorbly.
-
27
Die hemel openbaar sy ongeregtigheid, en die aarde staan teen hom op.
-
28
Weggevoer word die opbrings van sy huis--goed wat wegspoel op die dag van sy toorn.
-
29
Dit is die deel van die goddelose mens van die kant van God en die erfdeel wat vir hom bestem is deur God.