📖 Job 18
-
1
Toe het Bildad, die Suhiet, geantwoord en gesê:
-
2
Hoe lank wil julle jaag agter woorde? Word verstandig, en daarna sal ons spreek.
-
3
Waarom word ons as vee gereken, is ons dom in julle oë?
-
4
Jy, iemand wat homself verskeur in sy toorn--sal om jou ontwil die aarde verlate wees of 'n rots uit sy plek versit word?
-
5
Ja, die lig van die goddelose gaan dood, en die vlam van sy vuur bly nie flikker nie.
-
6
Die lig in sy tent word duisternis, en sy lamp bo hom gaan dood.
-
7
Sy geweldige treë word ingekort, en sy eie plan gooi hom omver.
-
8
Want hy raak in 'n net deur sy eie voete, en hy loop oor die vlegwerk van 'n vangkuil.
-
9
'n Vangnet gryp sy hakskeen, 'n strik hou hom vas.
-
10
'n Tou is vir hom verberg in die grond en 'n valstrik vir hom op die pad.
-
11
Verskrikkinge beangstig hom aan alle kante en jaag hom so ver as hy gaan.
-
12
Sy onheil het honger, en die ondergang staan gereed vir sy val.
-
13
Die eersgeborene van die dood verteer die lede van sy liggaam, hy verteer sy lede.
-
14
Weggeruk word hy uit sy tent, die voorwerp van sy vertroue; en dit laat hom aanstap na die koning van die verskrikkinge.
-
15
Daar woon in sy tent iets wat hom nie toebehoort nie; swawel word gestrooi oor sy woning.
-
16
Onder verdroog sy wortels, en bo verwelk sy tak.
-
17
Sy gedagtenis vergaan van die aarde af, en hy het geen naam op die wye veld nie.
-
18
Hulle stoot hom uit die lig in die duisternis, en uit die wêreld verjaag hulle hom.
-
19
Hy het geen kroos of nageslag onder sy volk en niemand wat oorbly in sy wonings nie.
-
20
Oor sy dag staan die mense van die Weste verskrik, en siddering gryp die mense van die Ooste aan.
-
21
Sekerlik, so gaan dit met die wonings van die kwaaddoener en so met die plek van hom wat God nie ken nie.