📖 Job 17
-
1
My gees is verward, my dae is uitgeblus, die graf wag op my.
-
2
Waarlik, bespottinge is my deel, en op hulle getwis moet my oog rus.
-
3
Gee tog 'n pand, staan borg vir my by U; wie anders sal vir my borgskap verleen?
-
4
Want U het húlle hart gesluit vir verstand; daarom sal U hulle nie laat triomfeer nie.
-
5
Hy wat vriende aanklaag vir 'n buitaandeel--die oë van sy kinders sal versmag.
-
6
Maar Hy het my 'n spreekwoord vir die mense gemaak, en ek moet iemand wees wat hulle in die gesig spuug.
-
7
Daarom het my oog dof geword van verdriet, en al my lede is soos 'n skaduwee.
-
8
Die opregtes is daaroor ontsteld, en die onskuldige kom teen die goddelose in opstand.
-
9
Nogtans hou die regverdige vas aan sy weg, en die wat rein van hande is, neem toe in krag.
-
10
Maar, kom maar altyd weer aan, julle almal! 'n Wyse vind ek onder julle tog nie.
-
11
My dae is verby, my planne tot niet, die wense van my hart.
-
12
Van die nag maak hulle 'n dag; lig, sê hulle, is naby vanweë die duisternis.
-
13
As ek hoop op die doderyk as my huis; in die duisternis my bed uitsprei,
-
14
die grafkuil toeroep: My vader is jy; die wurms: My moeder en my suster,
-
15
waar is dan my verwagting? Ja, my verwagting, wie ontdek dit?
-
16
Na die grendels van die doderyk sal dit neerdaal, wanneer daar tegelykertyd rus is in die stof.