📖 Job 15
-
1
Toe het Élifas, die Temaniet, geantwoord en gesê:
-
2
Sal 'n wyse man met winderige wetenskap antwoord gee en sy buik vul met oostewind--
-
3
deur te pleit met woorde wat nie baat en met beweringe waarmee hy niks uitrig nie?
-
4
Ja, jy breek die Godsvrees af en verstoor die stille oordenking voor die aangesig van God.
-
5
Want jou ongeregtigheid gee onderrig aan jou mond, en jy kies die taal van die listiges.
-
6
Jou eie mond veroordeel jou, en nie ek nie; ja, jou eie lippe getuig teen jou.
-
7
Is jy die eerste as mens gebore en voor die heuwels in die wêreld gebring?
-
8
Het jy in die raad van God afgeluister en die wysheid na jou toe getrek?
-
9
Wat weet jy wat ons nie weet nie? Wat verstaan jy wat in ons nie is nie?
-
10
Ook is daar grys hare, ook bejaardes onder ons, ryker in dae as jou vader.
-
11
Is die vertroostinge van God vir jou te min, en 'n woord met sagtheid jou toegespreek?
-
12
Waarom sleep jou hart jou weg? En waarom flikker jou oë so--
-
13
dat jy jou toorn rig teen God en sulke woorde uit jou mond laat uitgaan?
-
14
Wat is die mens, dat hy rein sou wees? En hy wat uit 'n vrou gebore is, dat hy regverdig sou wees?
-
15
Kyk, in sy heiliges stel Hy geen vertroue nie; ja, die hemele is nie rein in sy oë nie;
-
16
hoeveel minder die afskuwelike en ontaarde, die mens wat onreg drink soos water!
-
17
Ek wil jou inlig, luister na my; en wat ek gesien het, wil ek vertel;
-
18
wat die wyse manne verkondig sonder om iets te verberg, van hulle vaders af oorgelewer;
-
19
aan hulle alleen was die land gegee, en geen vreemdeling het nog onder hulle deurgetrek nie.
-
20
Al sy dae leef die goddelose in angs, ja, al die jare deur wat vir die tiran bepaal is.
-
21
Skrikgeluide is in sy ore; in volle vrede oorval die verwoester hom.
-
22
Hy glo nie dat hy uit die duisternis sal terugkeer nie; en hy is bestemd vir die swaard.
-
23
Hy dwaal rond en soek brood. Waar is dit? Hy weet dat gereed is, ophande, die dag van duisternis.
-
24
Benoudheid en angs verskrik hom; dit oorweldig hom soos 'n koning wat gereed staan vir die aanval,
-
25
omdat hy sy hand uitgesteek het teen God en die Almagtige getrotseer het
-
26
(hy het Hom stormgeloop met uitgerekte nek, met die dik bulte van sy skilde);
-
27
omdat hy sy gesig met sy vet oordek en 'n vetlaag op sy heupe gevorm het,
-
28
en verdelgde stede bewoon het, huise wat nie bewoon moes word nie, wat bestem was om puinhope te bly.
-
29
Hy bly nie ryk en sy vermoë hou nie stand nie, en hulle besitting buig nie soos koringare na die aarde toe nie.
-
30
Hy ontvlug nie die duisternis nie, die vlam laat sy spruit verdroog, en hy vergaan deur die geblaas van die mond van God.
-
31
Laat hom nie vertrou op nietigheid nie--hy kom bedroë uit! --want nietigheid sal sy vergelding wees.
-
32
Voor sy tyd word dit vervul, en sy palmtak bly nie meer groen nie.
-
33
Hy skud sy onryp druiwe af soos 'n wingerdstok en gooi sy bloeisel af soos 'n olyfboom.
-
34
Want die bende van die goddelose is onvrugbaar, en vuur verteer die tente van omkopery.
-
35
Hulle is swanger van moeite en baar onheil; en hulle skoot bring bedrog voort.