📖 Job 14
-
1
Die mens uit 'n vrou gebore, is kort van dae en sat van onrus.
-
2
Hy spruit uit soos 'n blom en verwelk; ook vlug hy soos 'n skaduwee en hou nie stand nie.
-
3
En oor so een maak U die oë oop, en U bring my voor u gereg.
-
4
Ag, kon maar 'n reine voortkom uit 'n onreine--nie een nie!
-
5
As dan sy dae vasgestel is, die getal van sy maande by U is, U vir hom grense gestel het waar hy nie oor kan gaan nie,
-
6
kyk dan weg van hom af, dat hy kan rus--totdat hy soos 'n dagloner hom tevrede voel met sy dag.
-
7
Want vir 'n boom is daar verwagting: as dit afgekap word, loop dit weer uit en sy loot ontbreek nie.
-
8
As sy wortel oud word in die aarde en sy stam sterf in die stof--
-
9
van die reuk van die water spruit dit weer uit, en dit maak 'n tak soos 'n jong plantjie.
-
10
Maar 'n man sterwe en is magteloos; ja, 'n mens blaas die asem uit en--waar is hy?
-
11
Die waters verdwyn uit die groot waterplas, en die rivier droog uit en lê droog--
-
12
so lê die mens daar sonder om weer op te staan; totdat die hemele nie meer is nie, word hulle nie wakker of uit hul slaap opgewek nie.
-
13
Ag, as U my maar in die doderyk wou wegsteek, my wou verberg totdat u toorn bedaar het, my 'n bepaalde tyd wou stel en dan aan my wou dink!
-
14
As 'n mens sterwe, sal hy weer lewe? Dan sou ek hoop al die dae van my stryd totdat my aflossing kom;
-
15
U sou roep, en ek sou U antwoord, na die maaksel van u hande sou U verlang.
-
16
Want nou tel U my voetstappe. Let U nie op my sonde nie?
-
17
My oortreding is verseël in 'n bondeltjie, en U sluit my ongeregtigheid weg.
-
18
Maar soos 'n berg stukkend val as dit neerstort, en 'n rots versit word uit sy plek;
-
19
die water klippe glad skuur; die stortvloede daarvan die grond van die aarde wegspoel; so is die verwagting van 'n mens--U maak dit tot niet.
-
20
U oorweldig hom vir ewig, en hy gaan heen; U verander sy gelaat en stuur hom weg.
-
21
Sy kinders kom in eer, maar hy word dit nie gewaar nie; en hulle word gering, maar hy let nie op hulle nie.
-
22
Net sy vlees aan hom voel pyn, en sy siel in hom treur.