📖 Job 10
-
1
Ek walg van my lewe; ek wil my geklaag die vrye loop gee; ek wil spreek in die bitterheid van my siel.
-
2
Ek sê tot God: Veroordeel my nie; laat my weet waarom U met my twis.
-
3
Is dit voordeel vir U dat U verdruk; dat U die arbeid van u hande verwerp, terwyl U oor die planne van die goddelose lig laat skyn?
-
4
Het U vleeslike oë? Of sien U soos 'n mens sien?
-
5
Is u dae soos die dae van 'n mens, of u jare soos die dae van 'n man?
-
6
dat U soek na my ongeregtigheid en vra na my sonde,
-
7
ofskoon U weet dat ek nie skuldig is nie en dat daar niemand is wat uit u hand kan red nie?
-
8
U hande het my geformeer en my gemaak, heeltemal rondom; en U vernietig my!
-
9
Bedink tog dat U my soos klei gevorm het, en wil U my tot stof laat terugkeer?
-
10
Het U my nie soos melk uitgegiet en my soos kaas laat dik word nie?
-
11
Met vel en vlees het U my beklee, en met beendere en senings het U my deurvleg.
-
12
Die lewe, ja, guns het U aan my bewys, en u sorg het my gees bewaak.
-
13
Maar daarby het U dít verberg in u hart, ek weet dat dít u toeleg was:
-
14
As ek gesondig het, sou U my waarneem en my nie vryspreek van my ongeregtigheid nie.
-
15
Was ek skuldig--wee my! En was ek regverdig, ek sou my hoof nie kon ophef nie, sat van skande en bewus van my ellende.
-
16
En as my hoof hom ophef, sou U my jaag soos 'n leeu en U opnuut wonderbaarlik teenoor my gedra.
-
17
U sou altyd nuwe getuies teen my bring en u grimmigheid teen my vermeerder--altyd nuwe leërafdelings teen my!
-
18
Waarom tog het U my uit die moederskoot laat uitgaan? Ek moes gesterf het sonder dat 'n oog my gesien het.
-
19
Ek moes gewees het of ek daar nie was nie; van die moederskoot af moes ek na die graf gedra gewees het.
-
20
Is my dae nie min nie? Laat Hy ophou, my laat staan, dat ek 'n bietjie vrolik kan wees,
-
21
voordat ek heengaan--en nie terugkom nie--na die land van duisternis en doodskaduwee,
-
22
'n land van donkerheid, soos middernag, van doodskaduwee en wanorde, en dit gee 'n skynsel--soos middernag!