📖 Hebreërs 3
-
1
Daarom, heilige broeders, deelgenote van die hemelse roeping, let op die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis, Christus Jesus,
-
2
wat getrou was aan Hom wat Hom aangestel het, net soos Moses ook in sy hele huis.
-
3
Want Hy is meer heerlikheid waardig geag as Moses, namate hy wat die huis gebou het, meer eer het as die huis;
-
4
want elke huis word deur iemand gebou, maar Hy wat alle dinge gebou het, is God.
-
5
En Moses was wel getrou in sy hele huis as 'n dienaar, om te getuig van wat nog gespreek sou word,
-
6
maar Christus as Seun oor sy huis. En ons is sy huis as ons net die vrymoedigheid en die roem van die hoop tot die einde toe onwrikbaar vashou.
-
7
Daarom, soos die Heilige Gees spreek: Vandag as julle sy stem hoor,
-
8
verhard julle harte nie soos in die verbittering, in die dag van die versoeking in die woestyn nie,
-
9
waar julle vaders My versoek, My beproef het en my werke veertig jaar lank gesien het.
-
10
Daarom het Ek vertoornd geword op daardie geslag en gesê: Altyd dwaal hulle met die hart. Maar húlle het my weë nie leer ken nie,
-
11
sodat Ek in my toorn gesweer het: Hulle sal in my rus nie ingaan nie.
-
12
Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle 'n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie.
-
13
Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie.
-
14
Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou;
-
15
omdat daar gesê word: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in die verbittering nie.
-
16
Wie was dit dan wat gehoor het en Hom verbitter het? Was dit nie almal wat onder leiding van Moses uit Egipte gegaan het nie?
-
17
En op wie was Hy veertig jaar lank vertoornd? Was dit nie op die wat gesondig het, wie se lyke in die woestyn geval het nie?
-
18
En aan wie het Hy gesweer dat hulle in sy rus nie sal ingaan nie, behalwe aan die ongehoorsames?
-
19
En ons sien dat hulle deur ongeloof nie kon ingaan nie.